Allerboomste Boom

baobab, trees
Adansonia digitata, Baobab, Kremetart boom, Oil on canvas, 1000 x 1500mm

Kremetartboom

die kemetartboom is ’n boom

hy laat nie sommer mense in hom klim nie

hy laat jou in hom óp kyk hy laat jou om hom loop

die olifante het hom bygekom sy bas gestroop

dit laat hom ongeroer

die kremetartboom is ’n boom

die ape mag maar in hom klouter

baljaar en hom beskyt dit laat hom ongeroer

hy laat die slang en vlermuis in hom boer

die leeus mag aan sy basis pis

hy bly maar wat hy is

die kremetartboom is ’n boom

diep in sy ou-ou sagte bruin ou bas

het harteloses hulle éie harte uitgesny

dit laat hom ongeroer sy holtes is deur bye

vol van hulle blommesoet gemaak

die spinnekoppe span hul sterrerak en radar daar

die kremetartboom is ’n allerboomste boom

hy is meer kaal meer stam as tak en blaar min vrug

meer aarde toe terug en ín as in die lug

mens sien hom as hy oud is raker raak

vol rimpels sag vol vog en sap

geen ander boom lyk naasteby

so enig bomelik soos hy

alleen die Groot Voet kan hom trap

sy swaar liggaam totaal toemaak

die kremetartboom is my boom

T.T. Cloete